INHOUD

Home

Editor's Letter

TECHNOLOGY

Reinventing the tube

Keeping up with the Times

J-blogging the best of both worlds?

'n Kykie na die veranderende eenoog-koning

MXit worth its moola

Techno impaired

Mobile media: A threat?

PEOPLE

Solo journalism

What the eyes do not see, does grieve the heart

Beautiful journalism

Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms?

Can u sms it 2 me?

Do you get your news?

Die Burger vir die burgers

The artist formerly known as the audience

THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA

Rebuilding the Chinese wall

Politici en hul waghonde

ENVIRONMENT

Burning issue: A changing climate, a changing media

Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal

ART

Kort aan kortverhale?

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies?

SPORT

Wat sport van vol is, loop die pen van oor

Keeping the game alive...with "sportainment"

 

 

Van toeka tot nou: die 50/50 suksesverhaal

Op 31 Maart 2008 moes Suid-Afrika afskeid neem van die 50/50, wat hulle vir 24 jaar betower het. Wat was die program se wenresep om die wêreld se langste lopende omgewingsprogram te word? Gaan die nuwe 50/50 die paal haal? Marlene Neethling skryf oor die verlede en toekoms van Suid-Afrika se gunsteling omgewingsprogram.

Die een was ’n gesondheidsinspekteur en kranige natuurbewaarder in die Krugerwildtuin. Die ander was ’n dosent aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit met ’n agtergrond in joernalistiek en ’n belangstelling in die sosiale wetenskappe.

In Januarie 1984 het Danie van der Walt, die gewese gesondheidsinspekteur, en Attie Gerber, nou ’n professor aan Noordwes Universiteit, hul kennis en belangstellings saamgevoeg en ’n program geskep wat Suid-Afrika se sosiale posisie, sowel as omgewingskwessies, aangespreek het.

“Ons het nog altyd geglo elke saak het twee kante en mense het ook die reg om die natuur te benut. Daarom die naam 50/50,” vertel Van der Walt, die uitvoe-rende regisseur van 50/50 vir die afgelope 24 jaar, aan SMF.

Met vyf personeellede en hul “antieke” 16mm-filmkameras, het hulle programme gemaak om die natuur Sondagaande na kykers se sitkamers te bring. Vir lank is die tydrowende proses van “raampies ontwikkel” en “klankbane skep” gebruik om hul programme te vervaardig, totdat hulle “een van die eerste spanne in die SABC geword het wat die Betacam videokameras, wat in die 1980’s ontwikkel is, gebruik het,” sê Van der Walt.

Maar dié was ook nie sonder probleme nie. ’n Harde stamp aan jou kamera en dinge kon lelik skeefloop.
“Hierdie kameras was nie juis bevorderlik as jy in die veld agter diere moes aanjaag tydens wildvang-ekspedisies nie.”

Ondanks die tegnologiese beperkinge was hulle van die eerste program af gewild. Die programlengte is later van 30 na 45 minute verleng, om só die eerste tweetalige program op die kassie te word.
Die program en die vervaardigers het saam van 1984 tot 2008 al 80 pryse vir omgewingsjoernalistiek en natuurbewaring gewen. Van der Walt is onlangs deur die ATKV met hul hoogste toekenning vereer – die ATKVeertjie Prestigeprys vir 2008.

Boonop is 50/50 die langste lopende program op die SABC én die langste lopende omgewingsprogram ter wêreld.

Wat was 50/50 se wenresep om ’n vinnig veranderende land se belangstelling só lank te behou?
“Die proses van evolusie geld nie net in die natuur nie. Televisieproduksie ondergaan oor die jare gedurig veran-dering,” vertel Van der Walt.

“Die byltjie moes gereeld geslyp word en die styl en inhoud van die program moes verander word om aan te pas by wat mense wil hê.”

Van die begin af het hulle elke oggend ná ’n uitsending ’n werkswinkel gehou en alle betrokkenes genooi vir ’n gesprek oor die program. “Die werkswinkels was daar om rigting aan nuwe programidees te gee, sodat ons nie dieselfde foute bly herhaal nie, of om regisseurs wat nie die paal haal nie uit te skakel indien hulle nie verbeter nie.”

Van der Walt glo sy geheime bestand-deel in die 50/50 wenresep was kyker-interaktiwiteit en sê dít is ’n les wat hy al jare gelede geleer het. “Omdat ek self in die Krugerwildtuin gewerk het, weet ek dis baie moeilik om altyd presies daar te wees met ’n kamera as iets unieks gebeur.

Die kanse is goed dat ’n toeris iewers iets belangriks gaan sien – dít maak hulle jóú oë,” vertel Van der Walt. Só is VeldFokus gebore – “’n skitterende suksesstorie wat baie kykers gelok het”.

Op 31 Maart vanjaar moes kykers hoor 50/50 gaan vir vier maande van die lug af wees en sal in Julie weer verskyn – met ’n hele nuwe voorkoms. Hierdie verandering is egter nie iets wat sommer net oornag gebeur het nie. In ’n brief wat die mediawerkersunie, Bemawu (Broadcast, Electronic, Media and Allied Workers Union), aan die SABC gerig het om die oorgee van 50/50 aan buitevervaardigers teen te staan, het hulle uitgewys die bestuur van SABC Inhoudsondernemings het in 2004 alreeds besluit om die interne 50/50-eenheid toe te maak. Dié besluit is sterk deur Bemawu en 50/50-personeel teengestaan, maar in 2007 het die nasionale uitsaaier finaal besluit om die program aan buitevervaardigers te gee.

Die gelukkige “wenner” van 50/50 is Clive Morris Productions – vervaardigers wat onder meer al programme soos Backstage en Die Nutsman vervaardig het. Johann Botha het ook by Van der Walt die leisels oorgeneem as die program se uitvoerende regisseur. Botha het homself in 1994 by die program aangesluit as ’n aanbieder en het vinnig kykers se vertroue gewen. Hy was tot die laaste program op 31 Maart betrokke by die program.

Twee aanbieders pleks van een in ’n hi-tech, moderne ateljee is vanaf 7 Julie vanjaar die nuwe 50/50-formaat. Verder het die program nou beweeg van die outydse “blok-struktuur” na ’n vryer formaat waar kykers nie weet watter segment van die program wanneer sal verskyn nie.

“In die verlede sou iemand aan die einde van die program inskakel om byvoorbeeld net VeldFokus te kyk. Die vrye struktuur ‘dwing’ mense om die hele program te kyk, omdat hulle nie weet wanneer hul gunstelingsegment gewys gaan word nie,” sê Botha.

Nie asof dit nodig is om mense te dwing om geïnteresseerd te bly vir die duur van die program nie. Saam met die ou konsepte wat oorgedra is van die vorige 50/50, is verskeie nuwe segmente bygevoeg.
Dit sluit in insetsels deur verskeie spesialis-wetenskaplikes, ’n onderwater- en veldgids, asook ateljeedebatte met kenners om “kontroversiële kwessies rakende die omgewing op te volg”, sê Botha.

Interaktiwiteit met 50/50-kykers, wat altyd deur Van der Walt nagestreef is, is ’n tydlose eienskap wat ook in die nuwe program ingesluit is. ’n Segment is geskep waar “kykers byvoorbeeld insetsels kan lewer oor ‘omgewingshelde en -skurke’, waaruit die ‘omgewingskurk van die week’ aangewys sal word,” sê Botha.
Hy en die nuwe 50/50-span moes heelwat veranderinge aanbring om aan die vereistes van die veranderende SABC te voldoen. Waar ’n fokusgroepstudie met die ou 50/50 gewys het die program sal sy gereelde kykers verloor indien meer Afrikatale of Engelse onderskrifte gebruik word, is dit ’n verandering wat nou aangebring móés word.

Verder is daar ook ’n paar jong aan-bieders gekies in ’n poging om jonger kykers te werf. Volgens Van der Walt “lyk die kykersprofiel van 50/50 baie dieselfde as alle ander omgewingsprogramme regdeur die wêreld – dis die 35-plus ouderdomsgroep”. Om dié rede is die program se styl bepaal deur ouer kykers se voorkeure.

“Om jong kykers geïnteresseer te kry, verg ’n heel ander inslag en styl,” en indien dít toegepas word “is dit ‘totsiens’ vir die ouer kyker”, sê Van der Walt. Botha stem saam dit gaan hul grootste uitdaging wees om nuwe kykers te lok sonder om die bestaande kykers te verloor.

“Ook om wetenskaplikes gelukkig te hou én uiteenlopende wêrelde saam te bring in een program gaan ’n groot uitdaging wees”.

Met “nuwe kykers” verwys hy na jonger mense, asook swart stedelikes wat nie voorheen deel gevorm het van die kykersprofiel nie. Hy meen die veranderinge is wel nodig, want “die kwessies wat ons bespreek, is belangrik en ons wil hê so veel moontlik mense moet daarvan bewus raak”.

Onder Van der Walt se leiding het 50/50 geloofwaardigheid in alle kringe, veral ook onder natuurbewaarders, verwerf. Soos Bewamu in sy brief aan die SABC uitgewys het: “50/50 is ’n beproefde sentrum van uitnemendheid. Vra enigiemand in die land watter uitsaaier vertel ons plaaslike omgewingstories die beste. Die antwoord sal heel waarskynlik die SABC se 50/50 wees.”

Botha is trots om te kan sê 50/50 se vervaardigers het al programme gemaak saam met die invloedryke National Geographic en Discovery en dat dié ook al menigte kere van 50/50 se beeld-materiaal gekoop het.
“Tot ministers het al hul besluite op ons program gebaseer,” sê Botha.

Dit is Botha se doelwit om in die nuwe program hierdie nalatenskap reg aan te doen, “om nie net ’n TV-program te wees nie, maar ook ’n rolspeler in die omgewing; om ’n program te maak wat leiding gee.” In Botha se woorde: “Ons wil dit mode maak om omgewingsbewus te wees.”